Nuusbrief/Blog


2020-01-25
Nyari, die mees eko-vriendelike kamp in die Krugerwildtuin


Fotos en storie deur Koos Marais

Nyari is Sanparke se mees winsgewende kamp in die Nasionale Krugerwildtuin. Ten spyte daarvan is dit ook die kamp met die laagste impak op die omgewing. Die beste van alles is dat Nyari besoekers die geleentheid gee om in die veld te stap, onder begeleiding natuurlik, en dat die kamp geheel en al privaat is.

Dit alles klink of Nyari een van daardie twee-wildsritte-en-eet-tot-jy-dood-is, wit linne en hot and cold running servants, $2000 per kop per dag, privaat lodges is, maar toe nie. Inteendeel. Jy bring en maak sommer jou eie kos en drank, ook jou eie voertuig, tent of karavaan en kampgoeters. 

Nyari is ’n boskamp, ’n inisiatief van die Ereveldwagtersvereniging, op die walle van die Shongololospruit, sowat 15 kilometer vanaf Mopanie Ruskamp. Die kamp bied verblyf vir agt persone, in hulle eie tente of karavane en daar is skoon en netjiese bostoilette en gerieflike ruimtes en staanders vir bosstorte, maar jy moet ook jou eie water saambring. So ook al jou eie eet-en drinkgoed. Aan die einde van jou drie dae se kuier moet jy ook al jou papiere, bottels en blikke saamneem om in Mopanie te gaan weggooi. Al wat jy sal agterlaat is spore en ’n stukkie van jou hart.

 

Die Ereveldwagtersvereniging sorg vir jou veiligheid gedurende jou verblyf en hulle maak vuur en koffie. Elke drie dae groep word deur ses Ereveldwagters bedien. Terwyl twee gewapende lede van die personeel saam met jou op uitgebreide staptoere gaan, bly die ander vier in die kamp agter om bietjie op te ruim en die bobbejane en ape te verwilder as hierdie viervoetiges kom inkopies doen. Af en toe kom daar groter besoekers met tande ook verby.

 

Die konsep van wildernisstaptoere bestaan natuurlik vanaf die laat sewentigs of vroeë tagtigs. Aanvanklik is dit deur die Nasionale Parkeraad self bedryf, maar dit is later ook geprivatiseer. Nyari is op die model van hierdie staptoere geskoei met die verskil dat besoekers hulle eie slaapplekke, water en kos moet voorsien. Die ou, tradisionele wildernis staptoerkampe het klein A-raamhuisies, met Napi wat luukse tente het. In al die wildernis staptoerkampies is daar ook kokke en die kamp voorsien die kos, asook alle water.

 

 

Die uniekheid van Nyari is geleë daarin dat toeriste letterlik alles wat hulle gaan gebruik, moet saambring en ook alle rommel moet verwyder. Die kamp sorg dus as’t ware vir homself. Terwyl die veldwagters, kokke en skoonmaakpersoneel van die staptoerkampe betaalde amptenare is, is die Nyari-mense almal onbetaalde vrywilligers. Die R7000 per paar wat jy en vroulief betaal, word netso aan Sanparke oorbetaal om die omgewing te bewaar. 

 

Die besoekers kry ’n unieke drie dag ervaring in die bos, ver van die massas toeriste, en terselfdertyd ook die geleentheid om daardie duur 4x4 karavaan of daktent wat die res van die jaar in die motorhuis staan, in die wildernis van die Krugerwildtuin te gebruik, terwyl al die geld net so vir bewaring gaan. Die Ereveldwagters kry eweneens die geleentheid om tyd in die bos deur te bring en hulle deel vir bewaring te doen. Wanneer die besoekers vertrek is al wat oorbly die twee stellasies waar die bostoilette en stortplekke is. 

 

 

Die leier van ons groepie Ereveldwagters was Wayde Begemann, ’n afgetrede ingenieur. Hy was bygestaan deur Richard Sheahan en Roger Noble wat albei reeds gevorderde kursusse in veldwerk afgelê het. Aldrie manne was gewapen met 458 Winchester kaliber gewere en terwyl ons deur die bos gestap het was Wayde altydvoor met een van die ander agter. Die ander gewapende man moes natuurlik in die kamp agterbly om die ander drie Ereveldwagters te beskerm. Hulle was Dolf Steyn, Hannes van den Berg en Nico van Zyl.

 

Ons het elke oggend en middag saam met die twee gewapende Ereveldwagters vanaf die kamp gestap en ons gidse het werklik uit hulle pad gegaan om ons van die veld te leer.Dit het nie net oor wildkyk gegaan nie, maar ook oor die bome, voëls en insekte. Hulle kon daarin slaag om ons die skugter spookvoël en groen papegaaiduif hoog in die bome te wys en ook vir ons die unieke lewensiklus van die mierleeu uitgewys. 

 

Natuurlik was ons heeltyd op die uitkyk vir die Groot Vyf en ons het wel verskeie kere olifante en buffels gekry. Ongelukkig het ons nie hierdie keer leeus gesien nie, maar een middag het ons wel ’n reuse luiperdmannetjie teëgekom.

 

Die groot bederf was toe ons een middag per voertuig na die Nyari Springs geneem is. Dit is ’n waterplek met baie wild. Ons kon heerlik buite die voertuie sit en skemerkelkies geniet terwyl ons die skouspel van die olifante in die water gade slaan met geen ander toeriste in sig nie. 

 

Aan die einde van ons tydjie daar het ons opgepak en die leë kamp agtergelaat, skoon en netjies, gereed vir die volgende groep toeriste.

 

Nyari is werklik ’n baie besondere konsep wat Sanparke nie ’n enkele sent kos nie en ’n baie groot inkomste bied. Dink net aan die impak van nog tien sulke kampe, almal beman deur vrywilligers wat nie sal staak of groter salarisse sal eis nie. Die Ereveldwagters is mense wat werklik ’n verskil in die Krugerwildtuin maak.

 

 


Kommentaar
Sit jou kommentaar by 
   

* Naam:   
* Epos:    
* Kommentaar:    
  Bereken asseblief die volgende som en sit die antwoord in die blokkie: 1 x 4 + 4 = ?
Antwoord:
 
Please leave this box blank.
 
Terug Terug na bo