Shimuwini-bosveldkamp lê op die noord-oewer van die Letaba. So ‘op’ die oewer dat wanneer ’n olifant (waarvoor die Letabarivier bekend is)  rivier toe kom, kyk jy hom sommer vierkant in die oog. Dis ’n klein kampie met groot atmosfeer. Terloops, Shimuwini is Shangaan vir “kremetartboom” en in die kamp is ’n laning van dié reuse waarvan een iewers tussen 2 000 en 3 000 jaar oud is.

Shimuwini bied die volgende akkommodasie-opsies:

Huisies
5 x 2-slaapkamer-eenhede. Albei kamers het twee enkelbeddens en 'n dakwaaier. Die badkamer het 'n bad met 'n stortkop, toilet en wasbak en verbindingsdeure na die ander slaapkamer. Die kombuis en eetkamer is op 'n oop stoep en het 'n twee-plaat-gasstoof (sonder oond), wasbak, yskas, kookgerei, breekware en eetgerei. Daar is ’n kombuistafel en vier stoele op die stoep.

Gastehuisies
9 x 2-slaapkamer-eenhede. Albei slaapkamers het dakwaaiers - een het drie enkelbeddens en die ander twee. Een slaapkamer het 'n en suite-badkamer (bad, toilet en wasbak). Daar is 'n aparte toilet, sowel as stort en wasbak. Die kombuis het 'n gasstoof (met oond), yskas, wasbak, kookgerei, breekware en eetgerei. Die eetkamer is op 'n oop stoep.

1 x 3-slaapkamer-eenheid. Daar is twee enkelbeddens en 'n dakwaaier, asook en suite-badkamer met bad en toilet in elke slaapkamer. Daar is 'n buitestort, vir 'n stort onder die sterre. Die badkamer het 'n bad, toilet en wasbak en verbindingsdeure na die slaapkamer en sitkamer. Die woonkamer het twee sitkamerstoele en 'n dakwaaier. Die eetkamer is op 'n groot, deels geslote stoep met drie koffietafels, ses stoele en 'n kombuistafel. Die kombuis is binne en het 'n stoof met oond, yskas, kookgerei, breekware en eetgerei.

Terug Terug na bo