Roodewal is ’n afgeleë bosveldkamp 44 km noord van Satara (wat die bestuur hanteer). Dit is ’n unieke ervaring om in die middel van die Krugerwildtuin te slaap en te besef daar is niemand anders naby jou nie. Laatnag onder die ewigheid van sterre voel jy sommer erg klein in die heelal.

Roodewal is op die Timbavatirivier geleë. Daar is ’n dek in ’n ou groot Njalaboom wat uitkyk op die rivier. Al is die rivier meesal droog, bied dit steeds kanse om iets te sien. Soos olifante wat kom om gorras (vlak syferwatergate) te grou. Hulle plas en suip en bou modderbaddens daarin, maar wanneer hulle aanbeweeg, kom drink ander diere. En jy sit op die uitkykdek en verlustig jou aan alles. Met ’n koffietjie of kouetjie wat jou keel bly maak. Lekkerte.

Een van die ware liegstories van Roodewal is dat iemand blykbaar een laataand besluit het om die ander gaste so effe skrik te maak deur die brul van ’n leeu oor die kar se CD te speel. Groot was die konsternasie toe die die ware jakob baie omgekrap net so kort anderkant die draad antwoord. Skielik het die dik kabels wat die grensdraad vorm soos grashalmpies gelyk. Veral omdat ta buite die draad onder die indruk was dat daar 'n indringer-leeu aan die binnekant van die draad was. Ai Wildtuinstories ...

Wat lekker is by Roodewal-kamp is dat jy vir die eerste en laaste uur van die dag geen ander toeriste op die paaie kan verwag nie. Daar is ’n watersuiping so twee kilometer van die kamp af wat vroegdag en laatmiddag dus net joune is. Die Timbavati-pad is lekker vol baie soorte wild.

Roodewal akkommodeer altesaam tot 19 mense en jy bespreek die kamp as ’n geheel.  Daar is ’n gesinshut met twee slaapkamers en 'n sitkamer. Een kamer het ’n en-suite-badkamer en die tweede badkamer loop uit die sitkamer.  Die ander drie hutte het elk drie beddens en verder solderkamers met twee matrasse elk. Elke huisie het sy eie yskas en badkamer met ’n stort. Daar is ook 'n gemeenskaplike braaiplek met ’n eetkamer en kombuis. Die braaiplek word elke dag deur personeel skoongemaak. 

Die Wildtuin is ’n unieke ervaring en Roodewal met sy afsondering en privaatheid nog ’n bietjie meer so ...

Terug Terug na bo