Gaste ontspan in die swembad van Khaya Umdani in Marlothpark

Marlothpark is gerieflik naby aan die Malelane- asook Krokodilbrug-ingangshekke van die Krugerwildtuin geleë. Marlothpark, ’n geproklameerde vakansiedorp, is sowat 39 kilometer vanaf  Malelane-  en 18 kilometer vanaf  Krokodilbrug-ingangshek van die Nasionale Krugerwildtuin.

Marlothpark bied 'n verskeidenheid verblyf-opsies en baie van die huise het ’n eie private swembad; dink net hoe lekker is dit om diere te kyk terwyl jy koel en kommerloos in die water is.

Daar is 'n baie lang grondpad waar mens langs die heining van die Wildtuin rustig kan stap of fietsry met 'n verkyker en uitkyk oor die Krokodilrivier wat die suidelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin vorm.

Daar is heelwat wild in Marlothpark maar geen buffels, renosters, olifante of leeus nie. Dis nou amptelik, maar leeus kom kuier wel soms in Marlothpark wanneer hulle deur die Wildtuin se wildheining gekruip kry.

Seker die heel lekkerste van Marlothpark is dat jy die Wildtuin kan ervaar sonder om in jou kar vasgevang te wees. Sit rustig terug op jou kampstoel, met of sonder vriende, met of sonder ietsie kouds vir die keel en verkyk jouself aan die diere van die Krugerwildtuin. Jy kry die kans om baie na te kom aan diere koedoes, vlakvarke, sebras en nagapies te kom. (Hulle bedel vreeslik kos, maar dis glad nie ’n goeie idee om hulle te voer nie. Vir meeste diere is verwerkte menslike kosse soos brood onverteerbaar en kan dit hulle baie siek en selfs dood maak.) 

Vir meer inligting oor die aankoop van eiendom in Marlothpark asook akkommodasie in gastehuise, selfsorghuise en lodges besoek gerus ook  www.marlothparkproperty.co.za .

Marlothpark bied 'n baie unieke wildtuin-ervaring op die drumpel van die Nasionale Krugerwildtuin.

Terug Terug na bo