Dit is 'n kamp wat nog erg smaak na die tradisies van die vervloë Wildtuin. Van die rondawels en hutte wat nou nog trots blyplek bied is al in die eerste helfte van die vorige eeu gebou. Die Shingwedzi-rivier omsoom die kamp en al is hy meesal droog, kan hy reëntyd boos raak. Vir die leek kan dit voorkom of daar min wild is, maar as jy geduld het kan jy groot troppe willd kry. Van olifante (wat tradisioneel groter in dié deel is) tot koedoes en dikbaie buffels. Dié buffeltroppe op hul beurt sorg weer dat Shingwedzi-omgewing met van die grootste troppe leeus spog.
Akkommodasie in Shingwedzi Ruskamp:
Kampplekke
50 tent- of karavaanstaanplekke met kragpunte en braaiplekke. Gemeenskaplike ablusie- en kookgeriewe (24-uur kookwater, elektriese plaatstowe en opwasbakke). Maksimum ses persone per staanplek.
Hutte
12 x 3-bed ouwêreldse eenhede met gemeenskaplike ablusiegeriewe. Daar is 'n klein yskassie op die stoep, maar geen kookgereedskap, breekware of eetgerei nie. Daar is wel 'n gemeenskaplike kombuis met opwaskamer en plaatstowe. Hutte is sonder lugversorging.
Rondawels
14 x 2-bed-eenhede met gemeenskaplike kombuis. Alle rondawels het lugversorging en badkamers – meeste met storte, sommige met bad – almal met toilet en wasbak. 'n Beperkte aantal ten volle toegeruste kombuisstelle (eetgerei, breekware, glase en pan) kan gehuur word. Doen navraag by Ontvangs wanneer jy aankom.
22 x moderne 2-bed-eenhede (een kamer met twee enkelbeddens). Rondawels toegerus met 'n opelugkombuis met oond, ys/ vrieskas en ten volle toegerus met kookgerei, breekware en eetgerei. Alle eenhede het lugversorging.
28 x 3-bed eenhede (een kamer met drie enkelbeddens en een afslaanbed) met kombuisie. Die rondawels is toegerus met stort, toilet en wasbak asook lugversorging.
2 x dubbelbed-eenhede. Toegerus met en suite-badkamer met stort, toilet en wasbak. Rondawels het elk 'n opelugkombuis met oond, mikrogolf, ys/vrieskas en ten volle toegerus met kookgerei, breekware en eetgerei asook lugversorging.
Huisie
1 x 4-bed eenheid (een kamer met dubbelbed en een met twee enkelbeddens), ten volle toegerus met twee badkamers, (een en-suite) kombuis en lugversorging. Die opelugkombuis het 'n plaatstoof en mikrogolfoond. Daar is 'n ys/vrieskas, wasbak, kookgerei, breekware en eetgerei. Elke huisie het ook 'n eet/sitkamer en buitebraai.
Gastehuis
Rentmeester is 'n groot luukse eenheid perfek geleë met rivieruitsig. Goed toegeruste kombuis (met mikrogolfoond), drie slaapkamers en badkamers. Televisie met beperkte DSTV-kanale. Lekker braaiplek. Slaap agt in drie slaapkamers, (twee met dubbelbed, een met twee enkelbeddens asook 'n dubbelslaapbank in die sitkamer).
Terug | Terug na bo |